Krim


Outonome Republiek die Krim
Автономная Республика Крым
Qırım Muhtar Cumhuriyeti
Vlag van Krim Wapen van Krim
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Процветание в единстве
("Welvaart in eenheid")
Volkslied: Гімн Автономної Республіки Крим
(Volkslied van die Outonome Republiek van Krim)
Ligging van Krim
Hoofstad Simferopol
Grootste stad Hoofstad
Amptelike tale Russies, Oekraïens en Krim-Tataars
Regering
Eerste minister
Russiese Republiek[1]
Sergei Aksyonov
Onafhanklikheid
Krim Federale Distrik

18 Maart 2014
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
26 081 km2  
10 038 myl2
-
Bevolking
 - 1 Maart 2012-skatting
 - 2003-sensus
 - Digtheid
 
1 962 663 (n.v.t.)
2 033 700
75.2 / km2
Geldeenheid Russiese roebel
(sedert 1 Junie 2014) (RUB)
Tydsone
 - Somertyd
Oos-Europese Tyd (OET) (UTC+2)
Oos-Europese Somertyd (OEST) (UTC+3)
Internet-TLD .crimea.ua
Skakelkode +380

Die Krim, as politieke entiteit op subnasionale vlak die Outonome Republiek die Krim (Oekraïens: Автономна Республіка Крим, Avtonomna Respublika Krim; Russies: Автономная Республика Крым, Avtonomnaja Respublika Krim; Krim-Tataars: Qırım Muhtar Cumhuriyeti, Къырым Мухтар Джумхуриети), is 'n skiereiland aan die noordkus van die Swartsee en 'n outonome republiek in Oekraïne wat sedert 2014 deur Rusland opgeëis word.

Sononder in Soedak.
Krimlandskappe is van poëtiese intensiteit en het groot digters soos Aleksander Poesjkin en Adam Mickiewicz geïnspireer
Skemertyd in die Demerdji-bergreeks

Die Krim-skiereiland verskil nie net in klimaat van die res van Oekraïne nie. Opvallend is die verskeidenheid kulturele invloede wat aan 'n lang lys van vreemde veroweraars te danke is. Die skiereiland se strategiese ligging in die Swartsee en sy vrugbare landbougrond het steeds weer die aandag van vreemde moondhede getrek. So is die gebied gedurende sy vroeë geskiedenis deur Cimmeriërs, Grieke en Romeine (wat dit Taurica genoem het), Skitiërs, Krim-Gote, Hunne, Bulgare, Chasare, Kiëf-Roes, Bisantyne, Kiptsjakke, Ottomaanse Turke, die Tatare van die Goue Horde en die Mongole ingeneem en oorheers.

In die 13de eeu is die Krim gedeeltelik deur die twee leidende Italiaanse stadstate, die Republieke van Venesië en Genua, oorheers en het later, van die 15de tot 18de eeu, deel uitgemaak van die Krim-Khanaat, 'n protektoraat van die Ottomaanse Ryk. In hierdie periode het dit die sentrum van 'n florerende slawehandel geword.

Vanaf die 18de tot die 20ste eeu was die skiereiland onder die bewind van die Russiese Ryk. Die Krim het ná die val van die Russiese Tsareryk in 1917 'n kort tyd lank as selfstandige staat bestaan, maar het vervolgens tydens die Russiese Burgeroorlog as 'n belangrike basis vir die Wit Leër in hul stryd teen die Bolsjewiste gedien. Die gebied is 'n tyd lank deur 'n reeks onstabiele regerings geadministreer voordat dit as 'n Outonome Sosialistiese Sowjetrepubliek in 1921 by die Sowjetunie ingelyf is.

Ná 'n kortstondige besetting deur Nazi-Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, waartydens die seehawe van Sewastopol byna volledig verwoes is, is die Krim in administratiewe opsig by die magtigste entiteit binne die Sowjetunie, die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR), ingelyf en later weer as deel van die Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek geadministreer.

Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie het die Krim steeds deel van Oekraïne gebly en 'n outonome parlementêre republiek gevorm wat oor sy eie grondwet beskik en in ooreenstemming met Oekraïense wette geregeer is. In Maart 2014 het die plaaslike regering Krim eensydig onafhanklik verklaar. Ná 'n omstrede referendum, waartydens 'n meerderheid kiesers ten gunste van die aansluiting by die Russiese Federasie gestem het, is die skiereiland de facto by Rusland ingelyf.

Die stad Simferopol, wat reeds in die antieke tydperk bestaan het en as basis vir die Sowjet-Russiese Swartseevloot gedien het (tans is dit die hoofbasis vir die Russiese Swartseevloot), dien as hoofstad van die Krim en as administratiewe setel van die plaaslike regering. Die outonome republiek met 'n oppervlakte van 26 081 km² het 'n bevolking van twee miljoen, waaronder 60 persent etniese Russe en 25 persent etniese Oekraïners. 77 persent praat Russies as moedertaal en tien persent Oekraïens.[2]

  1. De facto; internasionaal as deel van Oekraïne erken
  2. dpa (Deutsche Presse-Agentur), 1 Maart 2014

Developed by StudentB